Verstaan die maan as jy na hom staar. |
 |
Deon Begemann, U3A Stilbaai Astronomie-groep. |
|
1. Inleiding |
“Liewe maan jy seil so langsaam deur die awend wolke heen. Jy’s
so kalm en ook so rustig; kon ek daardie rus maar leen” (Kok &
Malan). Elke mens op aarde het al met fassinasie na die maan
gekyk en in ‘n oomblik van betowering gewonder wat hy presies
sien. Sommige kyk meer as een maal en is nie tevrede om nooit
weer te kyk nie. Dan ontstaan daar vrae by die maan-kyker wat my
noop om hierdie artikel te skryf aan die lede van U3A astronomie
klub met die doel om ‘n paar vrae te beantwoord en dit vir hulle
die moeite werd te maak om “sterre” te kyk as die maan vol is. |
Die maan is ‘n baie interessante hemel liggaam as mens weet
waarna om te kyk en die maanlandskap se samestelling verstaan.
Anders as die sterre is daar ‘n wêreld soortgelyk aan die aarde
wat die waarnemer deur ‘n verkyker of ‘n teleskoop kan waarneem.
Deur die maan se beeld te vergroot en dit te bestudeer gaan die
kyker onmiddellik op ‘n vakansie-toer deur ‘n landskap wat baie
aan die droë dele op die aarde, soos die Karoo, herinner. Na
mate die maan deur sy maandelikse siklus gaan verander die hoek
waarmee die son op die maan skyn voortdurend en daarom verander
die beelde wat die skaduwees vorm ook deurlopend. Dit dra by om
die landskap net meer fassinerend en drie dimensioneel te maak. |
|
2. Die oorsprong van die maan |
Die ouderdom van die maan word op 4.5 biljoen jaar geskat. Die
teorie lui dat tydens die vorming van die planete in ons
sonnestelsel ‘n bal konglomeraat met die aarde gebots en om die
aarde bly wentel het totdat dit die maan gevorm het. Weens die
relatiewe klein massa van die maan kon dit nie ‘n atmosfeer van
gasse en water behou nie. Die gevolg was dat daar vandag geen
strukture soos duine, erosie valleie en plooiingsberge soos op
aarde voorkom nie. |
Die maan het gou afgekoel en het nie soos die aarde ‘n kors wat
op lawa beweeg nie maar het wel ‘n klein semi-gesmelte kern. Die
maan is van tyd tot tyd met asteroïdes gepeper waarvan sommige
so groot was dat daar wel weer sporadies lawa gevorm is en van
die inpak kraters wat eerste gevorm het oorvloei het. |
Nadat die maan sy finale vorm bereik het, het daar ‘n groot
stilte gevolg wat reeds biljoene jare duur. Nou en dan het nog
‘n asteroied geval. Die onsigbare sonwind het egter nooit
opgehou om die oppervlak met klein energie ryke son deeltjies te
bestraal nie en het subtiel die oppervlak van die maan verander,
tot vandag toe. |
Enkele statistieke betreffende die maan word in die volgende
tabel weergegee: |
Gem. Afstand vanaf aarde: |
381 575 km |
Naaste afstand: |
356 400 km |
Vêrste afstand |
406 700 km |
Sideriese tyd van omwenteling:
(gemeet teen ‘n vaste ster) |
27.322 dae |
Gem. Sinodiese tyd van omwenteling:
(gemeet teen maan se gesig na die aarde) |
29.531 dae |
Gem. deursnee: |
3 476 km |
Massa aarde : Massa Maan: |
81:1 |
Gem. Skynbare verskuiwing per dag: |
13 grade |
Opkoms verskil: |
50 minute per dag |
|
|
3. Die drie hoof geologiese strukture op die maan. |
Deur ‘n verkyker of teleskoop word drie hoof strukture op die
maan waargeneem, naamlik: |
3.1 Impak kraters (veroorsaak deur impakte) |
3.2 Vulkaniese uitbarstings en lawa vloei (veroorsaak deur
vulkanisme) |
3.3 Frakture op die oppervlak (veroorsaak deur tektonisme) |
Op aarde sal ons die effekte van water (riviere, see en ys),
wind, die skuiwende plate van die aardkors en die invloed van
die mens kan byvoeg as kragte wat die landskap verander. |
 |
3.1 Impak kraters |
3.1.1 Eenvoudige kraters |
‘n Projektiel wat die maan tref kan mikrons of kilometers in
deursnee wees. Meestal trek hulle baie vinnig omdat daar geen
atmosfeer is nie. Die klein kratertjies (tot so 15 km in
deursnee) vorm byna perfekte komme met styl wande en plat
bodems. Die diepte is ongeveer 30% van die deursnee. Klein
kratertjies het soms nie ‘n rand nie en staan bekend as
kraterkuile. |
 |
3.1.2 Komplekse kraters |
Groot asteroides met baie energie veroorsaak dat die grond
tydens impak saamgepers word en daarna weer terug spring. Dit
veroorsaak ‘n heuweltjie (koepel) binne in die krater. Sulke
kraters se wande is dikwels so styl dat die wande ingee en na
binne of buite val. Die ontploffing tydens impak skiet rotse en
klippe soms meer as ‘n duisend km ver en veroorsaak wit strepe
waar die ondergrondse onbestraalde basalt ontbloot word. Die
diepte van komplekse kraters is ongeveer 10% van die deursnee. |
 |
3.1.3 Impak komme |
Die grootste impakte op die maan het komme veroorsaak wat soos
vlaktes uitstrek. Die diepte is ongeveer 1% van die deursnee.
Die botsing tydens vorming het die oppervlak laat smelt en lawa
uit die destydse gesmelte mantel na die oppervlak gebring. Die
lawa het uitgesprei en alle vorige kraters bedek. Die swart
gestolde lawa het vir die eerste sterrekundiges soos oseane
gelyk en tot vandag toe staan hulle as “Mare” bekend (Latyns vir
see). Die tabel aan die einde van hierdie stuk gee die
vertalings van die belangrikste Latynse name in Afrikaans en
Engels aan. |
 |
3.2 Vulkane |
Vir ‘n kort tyd na maanvorming was die binnekant van die maan
gesmelt en die temperatuur was aangejaag deur die verval van
radio aktiewe stowwe. Net soos op aarde was daar aktiewe
vulkane. Waar die lawa opgehoop het sien mens vandag nog net
vlaktes. Enkele verweerde lawa splete en pype kan mens vandag
sien en staan dit bekend as “Rille” (wat klein kanaal beteken).
Hier en daar is kegels en riwwe van opgehoopte gestolde lawa
sigbaar. |
Gestolde maan lawa bevat baie yster en titanium wat deur die son
se bestraling verdonker word. Waar dit later versteur is vertoon
dit ligter. Die persentasie yster en titanium beïnvloed ook die
kleur. Die sogenaamde hooglande van die maan het minder yster en
meer aluminium en kalsium in die vorm van veldspar en vertoon
ook ligter. |
 |
3.3 Tektoniese verskuiwings |
Die beweging van die maankors was die gevolg van impak,
vulkanisme en inkrimping. Terrasse, eskarpemente en riwwe wat
deur vertikale en horisontale druk verskille veroorsaak is kan
waargeneem word. |
 |
Deur die strukture op die maan te bestudeer kan mens ‘n tydlyn
waarneem waar impak, vulkanisme en tektonisme die omgewing
verander het, dikwels in verskillende volgordes. |
Fig. 1 hieronder toon die omgewing van die groot Plato krater
soos deur die Lunar Reconnaissance Orbiter Wide Angle Camera
afgeneem. |
 |
 |
Legende tot nommers: |
1. |
Kompleks krater Plato met vloer deur lawa bedek (101 km in
deursnee) |
2. |
Kratertjie op later stadium gevorm (Deursnee 2 Km) |
3. |
Skeur in krater rand |
4. |
Plato rille (spleet, 180 km lank) |
5. |
Eenvoudige krater Plato-D |
6. |
Montes Teneriffe (Teneriffe berge) Hoogte 2.4 km |
7. |
Mons Pico (Berg Pico) Hoogte 2.4 km |
8. |
Lawa pyp in Imbrium vloer |
9. |
Montes Blanc Hoogte 3.7 km |
10. |
Promontorium De Ville (Rotspunt De Ville) |
11. |
Valis Alps (155 km lank) |
12. |
Komplekse krater Cassini (56 km in deursnee) |
13. |
Mons Piton Hoogte 2.2 km |
14. |
Mare Imbrium impak kom met subtiele strepe lawavloei (Reën see)
(Deursnee 1145 km) |
15. |
Montes Recti (90 km lank) |
16. |
Montes Alps |
17. |
Cassini-A met impak heuwel (15 km deursnee) |
|
 |
In Figuur 2 is die Plato krater vergroot: |
 |
|
4. Die agterkant van die maan |
Die maan en die aarde is vasgevang deur gravitasie en die maan
voltooi een omwenteling rondom sy eie as in nagenoeg dieselfde
tyd as wat die aarde om sy as draai. Ons sien dus altyd ongeveer
dieselfde kant van die maan. Eintlik sien ons 59% van die maan
omdat die maan ‘n klein aswentelingsossillasie toon (librasie)
maar ons sien nooit die hele oppervlak te gelyke tyd nie. Slegs
41 % van die oppervlak is heeltyd sigbaar. Figuur 3 toon die
verskil in beeld tussen twee datums waarop die maan afgeneem is
vanaf Stilbaai. Librasie is die gevolg van die eliptiese baan
wat die maan om die aarde volg. |
Fig. 3 toon die verskil in die oppervlak wat ons sien ter
verklaring van die ekstra 9% sigbaarheid. |
 |
Die volledige agterkant van die maan is eers op 7 Oktober 1959
die eerste keer afgeneem toe die Russiese Lunik III satelliet om
die maan gewentel het. |
Om een of ander rede was daar minder lawavloei aan die agterkant
as aan die voorkant en daarom is daar baie meer kraters en
minder vlaktes aan die agterkant sigbaar. Die maankors is egter
dikker aan die agterkant as aan die voorkant en kon ‘n rol in
die ontstaan tot die verskil gespeel het. |
Fig. 4 toon die agterkant soos deur die Lunar Reconnaissance
Orbiter Wide Angle Camera afgeneem. |
 |
|
5. Maan nomenklatuur |
Die onderstaande tabel gee die vertaling van die belangrikste
terme wat dikwels op maan kaarte in Latyns aangedui word: |
Latyns |
Afrikaans |
Engels |
Mare |
Maanvlakte |
Ocean |
Mare Australe |
Suidersee |
Southern Sea |
Mare Crisium |
Rampsee |
Sea of Crisis |
Mare Fucunditatis |
Vrugbaarheidsee |
Sea of Fertility |
Mare Frigoris |
Kouesee |
Sea of Cold |
Mare Humorum |
Vogtigheidsee |
Sea of Humidity |
Mare Imbrium |
Reënsee |
Sea of Showers |
Mare Nectaris |
Nektarsee |
Sea of Nectar |
Mare Nubium |
Wolkesee |
Sea of Clouds |
Mare Serenitatis |
Kalmtesee |
Sea of Serenity |
Mare Tranquillitatis |
See van Rus |
Sea of Tranquillity |
Mare Vaporium |
Dampsee |
Sea of Vapours |
Dorsa |
Rif |
Ridge |
Montes |
Bergreeks |
Mountain range |
Mons |
Berg |
Mount |
Promontorium |
Rotspunt |
Rocky point |
Rille |
Spleet |
Cleft/Channel |
Rima |
Skeur |
Fissure |
Rupes |
Muur |
Wall |
Vallis |
Vallei |
Valley |
|
 |
Afrikaanse Maankaart - gesien soos met die oog of ‘n
verkyker: |
 |
|
6. Literatuur geraadpleeg |
De Klerk J.H. 1990. Sterrekunde Woordeboek. Potchefstroom
Herald. |
Omega Centauri Software. 2020. Lunarmap HD. |
Satterthwaite Gilbert E. 1970. Encyclopedia of Astronomy. Hamlyn
London. |
Scagell Robin.2004. Philip’s Night Sky Atlas. Philip’s Londen. |
Wikipedia, the Free Encyclopedia. 2020. |
Wood, Charles A & Collins, Maurice J. S. 2013. 21 st Century
Atlas of the Moon. West Virginia University Press. |
|
Mei 2020 |